A/N:

Afrikaans: Die titel kom van Koos du Plessis se liedjie "Sprokie vir 'n stadskind".

English: The title comes from Koos du Plessis' song "Sprokie vir 'n stadskind" (sorry that you have to resort to Google Translate).


Dit sou amper enige ander dag in die Droomlande gewees het, tot Ricki Carter besluit het om in haar familielid Randolph Carter se voetspore te volg. Sy het keer op keer sy joernale uit die laaste jare van sy lewe gelees, veral dié wat oor sy avonture in die Droomlande gegaan het. Sy het die waarskuwings wat hy geskryf het, veral dié oor Kadath, vir jare ten harte geneem. Tot daardie dag toe.

Die visies waaroor Randolph geskryf het – van die skitterende goue stad wat toe al die tyd Boston was – het Ricki ook begin pla. Dit het aangehou tot sy elke oggend in haar bed wakker geskrik het, met die gevoel dat iets uit plek is. Na die sewende keer het sy uiteindelik, net voor sy gaan slaap, na die gode van die Droomlande gebid om haar toe te laat om Randolph se voetspore na Kadath te volg. En, dit het baie letterlik en baie onverwags gebeur.

Toe sy in die Droomlande beland het, was sy in die Betowerde Woud, reg waar Randolph se eie Droomsoektog begin het. Sy het toe maar besluit om sy voetspore te volg en te doen wat hy gedoen het, as sy moet. Sy het van die Betowerde Woud na Ulthar gegaan, en van Ulthar na Dylath-Leen. In Dylath-Leen het sy baie naby daaraan gekom om Randolph se fout met die handelaars te herhaal, maar op die laaste sekonde dit reggekry om dit te vermy. Sy het sy pad na Oriab gevolg, Ngranek self uitgeklim om die gesig op die berg self te sien en ongelukkig ook Randolph se ongeluk gehad om in die Vallei van Pnath te beland.

Die geeste was gelukkig baie hulpvaardig, hoewel een – wat Ricki later as Richard Pickman danksy Randolph se beskrywing kon uitken – gebrom het oor simpel Dromers wat ander se foute herhaal en glad nie beïndruk was toe sy sê dat sy verwant is aan Randolph nie. Sy het toe maar baie onwillekeurig dieselfde paadjie gevolg, regdeur die valdeur na die Betowerde Woud in die Toring van Koth. Sy was toe maar weer deur Ulthar, waarvandaan sy na Thran en dan na Celephaïs gegaan het, hoewel sy haar beste probeer het om Kuranes te vermy. Toe het Ricki maar 'n bladsy uit Randolph se boek gevat en gemaak of sy in die oopgroefmyne wou gaan werk, en vir die tweede keer die geskiedenis homself laat herhaal het.

Maar dit was toe sy uiteindelik by Kadath aankom dat haar ervaring op 'n baie dramatiese en onverwagse manier van Randolph s'n afgewyk het.

Sy het een oomblik deur die leë sale gestap en die volgende oomblik in 'n bed wakker geskrik. Maar sy kon duidelik sien dat sy nog steeds in die Droomlande was, want 'n man wat baie soos die farao's van ouds gelyk het, het teen die muur naby die deur geleun. Dit het haar 'n paar minute gevat om uit te werk wie hy was, maar haar bloed het ys in haar are geword toe sy besef het wie dit is: Nyarlathotep. Sy gesigsuitdrukking het baie gelyk asof hy plesier uit haar vrees geneem het en hy het sy tyd gevat om aan haar te verduidelik hoekom hy haar nie sou laat gaan nie; dat sy elke keer wanneer sy die Droomlande betree reguit na Kadath toe sou gaan, of sy wou of nie.

Dit was nou maande en maande gelede, en Ricki het stadigaan gewoond geraak aan die roetine. Elke aand, sonder mislukking, het sy in Kadath beland die sekonde wat sy aan die slaap geraak het. Dit het haar stadigaan begin mal maak, want sy het Ulthar en sy baie katte begin mis. Maar selfs dit het opgehou toe sy besef het dat sy nie 'n kans het om soontoe terug te gaan nie. Nie voordat sy gedoen het wat Randolph nie wou doen nie: Vir Nyarlathotep 'n deurgang na die goue stad gevind het.

En sy het dit gedoen; sy het die deurgang gevind, na maande van navorsing en mislukte pogings. Al wat sy gehoop het was dat almal haar sou vergewe.


A/N:

Afrikaans: Dit was 'n eksperiment om in my moedertaal te skryf. Dis 'n bietjie van 'n unieke situasie, want ek skryf nie baie in Afrikaans nie.

English: This was an experiment to write in my native language. It's a bit of an unique situation, since I don't write in Afrikaans too often.